
Sondag steel jy my hart
Karabo het twee beloftes wat soos die Sondag-blues oor haar kop hang. Haar belofte aan haar tannie: dat sy nie eensaam en sonder liefde sou sterf soos sy nie. En haar belofte aan haarself: dat sy “die een”
sal kry voor haar internskap by die hospitaal volgende jaar verby is.
Will, met sy motorfiets en leerbaadjies, is te wild om vir ewig aan iemand vasgeketting te wees, veral nie iemand soos sy nie. Hy slaan dan in kolle uit as daar na ’n “langtermynverhouding” verwys word. So, hulle is net pelle. Regtig. En pelle mag nie vryers word nie – dis algemene kennis. Behalwe vir die klein feit dat Will heeltemal Karabo se hart gesteel het … en sy het nie ’n
idee hoe om dit terug te kry voor haar selfopgelegde sperdatum nie.
Proloog:
Vandat ek kan onthou, het daar altyd Sondae so ’n vreemde melancholiese gevoel soos die reuk van vars
bloed in die lug gehang. ’n Vreemde verlange na iets so oud soos tyd self. Die Sondag-blues.
Toe ek op skool was, het ek gedink dis omdat ek Maandae moet skool toe gaan. Op universiteit het ek
gedink dis omdat ek Maandag weer moes klas draf. Noudat ek ongereelde tye werk, vloei my dae ineen,
maar my hart weet wanneer dit Sondag is. Daar is so ’n hol geluid wat mens se hart op ’n Sondag maak.
Soos die eggo in ’n leë huis. Die slim mense sal vir jou sê Sondag-depressie is die gevolg van vrees vir die week vol verantwoordelikhede wat voorlê, moeg wees vir roetine, glo dat jy jou tyd oor die naweek gemors het, basies angs vir die nuwe week wat kom. As ’n tiener het ek my Sondag-blues met stories oor
die liefde in alle vorms en groottes besweer. Flieks, boeke en gedigte. Maar daardie leë huis in my hart het bly eggo, want sien, my liefde vir die liefde is al in my gekweek vandat ek klein was. Aangevuur deur my pa se sus, Rakgadi Bonolo, of Rakgadi Nolo, soos ek haar genoem het. In my tannie se materiaalwinkel
het ek met al die afvallappe vir my trourokke geprakseer. Haar kat, Shaka, was altyd die geduldige bruidegom. Ek wou groot word net sodat ek kon trou en ’n hele spul kinders kon kry. Wat my uitbring
by my teorie … Vir my is Sondae geweef uit die drade van afwagting.
Afwagting en verlange na iets of, om meer presies te wees, iemand wat ek nog nie ken nie. Rakgadi Nolo
het altyd gesê: “’n Leë hart is soos ’n leë huis wat wag dat iemand die kamers kom volmaak sodat dit nie
meer so hartseer hoef te eggo nie.” Sy het my laat glo dat liefde ons emosionele immuunstelsel versterk, wat ons meer veerkragtig maak in die aangesig van teëspoed. Want sien, haar eie liefdesverhaal was bittersoet. Sy het nie kinders van haar eie gehad nie. Toe sy my dus op haar sterfbed vra om haar te belowe dat ek nie soos sy eensaam en sonder liefde sal doodgaan nie,
het ek nie twee maal daaroor gedink nie. Haar woorde was ’n pleidooi vir my om die hartseer van haar
lewenspad te vermy. Haar liefdesverhaal was een vir die boeke, gevul met gesteelde kyke, laataandgesprekke en gedeelde drome. Maar die noodlot het ’n wrede manier om die liefde te toets. Tumelo het op die dag van hul troue koue voete gekry. Hy het haar voor die kansel gelos, al was die lobola al betaal. Sonder enige verduideliking. Sy kon haar nie ’n lewe sonder hom voorstel nie. Maar al het sy haar hartseer en eensaamheid soos ’n swaar kleed gedra, was dit nie die godsdiens
wat sy verkondig het nie. Sy het die wonder van die liefde en verlief wees verkondig, en dis die Kool-
Aid wat ek opgeslurp het. Sy het my altyd laat verstaan dat die liefde, selfs in sy vlugtigste en broosste vorm, die krag het om ons lewens te vorm op maniere wat ons nie kan voorspel nie. Want sien, die liefde vorm ons in sy afwesigheid ook. Wat my weer bring by my teorie … Ek glo die enigste medisyne vir die Sondag-blues is nie oefening of rus nie, dis ware liefde. So, as jou hart ook soms soos ’n Sondag voel, is
hierdie ’n storie vir jou oor ’n sekere getatoeëerde hartebreker en ’n mediese intern, en oor weerlig-in-’nbottel- liefde … of is dit weerlig-in-’n-bottel-vriendskap?
Lees maar self.
